028 841 4608   trust@ppmong.co.za  
PP Mong Hereford Stud and Farm

PP MONG HEREFORD STUD


Vicemong Hereford Genetics (Edms.) Bpk. is onlangs gestig deur die Köster-familie (Heiko, Hinner, Estè) en die Mong-familie (Bertus, Pieter-Paul en PJ).

Die welbekende Köster-stoet, Vicedale Herefords, voorheen van Vryburg in Noordwes en nou geleë in Cullinan, en die PP Mong Trust BM Herefords van Villiersdorp het sedert 1980 noue bande en gesamentlike waardes en standaarde vir stoetteling.

Die doel van die nuwe maatskappy is om Herefords te teel wat al die karaktereienskappe het wat die ras uniek maak vir produksie, groei en karkaskwaliteit. Om die doel te bereik, word uitstekende genetiese materiaal van regoor die wêreld gebruik in die seleksie en produksie van herefords van hoë gehalte deur die PP Mong Trust en Vicedale Herefords.

Suid-Afrikaanse skenkerkoeie sal geselekteer word op grond van uitstekende teeleienskappe en fenotipiese funksionele eienskappe en nageslag.

Skenkerkoeie sal hoofsaaklik gekies word uit die twee betrokke stoeterye, maar Vicemong sal ook topkoeie van ander telers gebruik. Vicemong sal dan in Suid-Afrika sy eie genetiese geteelde stoet bou wat as aparte entiteit sal funksioneer en dan die mark sal uitbrei vir verkope aan ander telers.

Tweedens word diere ook internasionaal aangekoop en sal hulle by huidige eienaars in die betrokke lande bly – soos die VSA en Kanada, waar hulle uiteindelik ook deel vorm van die Vicemong-kudde. Twee verse en drie embrio’s van hoogstaande gehalte is aangekoop by die wêreldbekende Colyer Herefordstoet in die VSA. Hierdie tipe genetika (embrio’s, semen en nageslag) sal na Suid-Afrika ingevoer word en deel wees van die handelsmerk wat Vicemong Internasionaal verteenwoordig.

Met Mong-hulle se onlangse besoek in Junie het hulle ’n verdere 10 embrio’s van Colyer Stoet gekoop vir inplasing in ontvangerkoeie in die VSA. Die dragtige ontvangerkoeie sal dan na Hutchinson, Kansas, verskuif word waar die Oswald-familie die stoetery verder sal bedryf.

In 2017 behoort Vicemong die eerste embrio’s na SA in te voer om hul plaaslike belange met dié topgenetika te versterk.

In die VSA het herefordbulverkope verlede jaar drasties toegeneem nadat die heteroseproewe bewys het watter bydrae herefordbulle tot die produksie van gehaltevleis in hul kuddes kan maksimeer.

Vicemong Hereford Genetics wil hom reg posisioneer in die mark vir die verwagte toename van herefordbul-verkope hier op tuisbodem.

- Die Burger 28 Augustus 2015 -

 

 

PP Mong Trust


Tel: 028 841 4608
Cell: 082 947 0711
Fax: 028 841 4685
Email:
trust@ppmong.co.za

COPYRIGHT © PP MONG TRUST. WEBSITE, SEO & CMS BY QUICKSOLVE INTERNET